Artists

Sharoney – Artist Profile

Gedurende 2014 is Sharoney aan die Suid-Afrikaanse publiek bekendgestel met die uitreiking van haar heel eerste enkelsnit Een Keer, geskryf deur Hugo Ludik en Reynardt Hugo van die gewilde groep ADAM. Sommer baie vinnig het hierdie liedjie die trefferparades van radiostasies regoor Suid-Afrika gehaal en vir ’n lang tyd net daar gebly!

DIE MEISIE AGTER DIE STEM

Sharoney is een-en-twintig jaar oud en baie entoesiasties oor die lewe. Sommer met die intrapslag besef jy dat sy ’n alles-of-niks mens is, dat sy nie daarin glo om kortpaaie te neem nie en bereid is om hard te werk vir wat sy wil hê. Sy het op die ouderdom van agt begin sanglesse neem en is in 2010 gekies om deel te wees van ’n uitesoekte groep musikante om Suid-Afrika in Los Angeles te verteenwoordig. In 2011 neem sy ook deel aan die sangafdeling van Beyond 2000 se Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste. Sy het egter eers besef dat musiek haar roeping is nadat sy in 2012 aan die Suid-Afrikaanse Talentkampioenskappe (SATCH) deelgeneem het en oorweldigende goeie terugvoer ontvang het.

Toe sy in 2013 aan Hoërskool Hugenote in Springs matrikuleer, wou sy graag gaan regte studeer, maar het gou besef dat dit nie gaan inpas by ’n loopbaan in die musiekwêreld nie. Daarom het sy besluit om liewer BA Kommunikasiewetenskappe te probeer, omdat dit goeie agtergrond bied vir wat in die vermaaklikheidsbedryf aangaan. As lid van die Performer Corner, is sy ook deur regisseur At Strydom genader om deel te wees van sy produksie, Wasem, wat bevestig dat sy ’n meisie van vele talente is.

Haar musiekloopbaan het egter eers begin vlam vat toe Hugo Ludik, van Muse Productions, haar talent raakgesien het tydens ’n voorvertoning vir ADAM en hy het haar toe onder die vlerk geneem en met die regte mense in kontak gesit. Die resultaat hiervan, was ’n CD wat spesiaal vir haar geskryf is en deur Luisternet uitgereik is.

Sharoney se familie is vir haar baie belangrik. Sy kom uit ’n baie hegte gesin wat gereeld saam kuier. Haar pa is haar held en sy beskou hom as haar mentor omdat dit hy is wat haar geleer het van hard werk en uithou, al is dit hoe moeilik.

Wanneer jy haar vra waarmee sy haarself besig hou wanneer sy nie sing nie, borrel sy letterlik oor van entoesiasme oor die liefdadigheidswerk waarby sy betrokke is. “Liefdadigheidswerk maak my opgewonde, omdat daar min dinge is wat vir my so lekker is as om te kan gee. Ek was baie betrokke by Hope4Ruben, wat fondse ingesamel het vir Ruben Scharneck wat in 2014 gediagnoseer is met Neuroblastoma-kanker, maar ongelukkig vanjaar sy stryd teen die siekte verloor het. Ek is steeds betrokke by Hi5 Kids Recovery Unit, ’n nie-winsgewende organisasie, wat hulle beywer vir die algemene welstand van kinders en veral ingryp waar mishandeling, molestering en dwelmmisbruik deur ouers betrokke is. Ek spandeer ook gereeld tyd saam met siek kinders waar en wanneer dit nodig is,” vertel sy.


Besprekings:
E-pos: sharoneyviljoen@gmail.com

Publisiteit & Bemarking:
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za