top of page
  • Writer's pictureAdmin

Petronel Baard se Heelal hou net aan met draai.

Updated: Mar 10, 2020


In die paar maande sedert die suksesvolle vrystelling van haar nuuste enkelsnit, Life is Good, het die kabaretster, Petronel Baard, nog net van krag-tot-krag gegaan. Dié liedjie, wat in Oktober verlede jaar uitgereik is, is uitstekend ontvang en het bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier, dit terwyl die musiekvideo ook reeds deur duisende mense op sosialemedia gekyk is. Life is Good se sukses kom dan ook as geen verrassing nie, aangesien hierdie passievolle musikant – met haar strelende storievertellerstem – oor die afgelope twee dekades reeds diep spore in die musiekbedryf kom trap het. Om verder voort te bou op die afgelope paar maande se sukses, het sy ook pas aangekondig dat sy vanjaar weer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te sien gaan wees met haar nuutste  kabaretvertoning, Musiek van die Lang Vrou: Die Heelal Draai, wat inhoud van haar mees onlangse album, DIE HEELAL DRAAI, gaan bevat! Hierdie vertoning maak sy buiging twinting jaar na haar eerste solo-vertoning by die fees, wat destyds musiek ingesluit het van haar album, Lank Al. Die stuk, wat deur Petronel self geskryf en deur Langvrou Produksies vervaardig is, sal nie net haar eie talent as sangeres en pianis ten toon stel nie, maar ook die van Schalk Maas (sanger, kitaar- en mondfluitjiespeler), Altan Ungerer (baskitaar- en kitaarspeler, perkussie en sanger van die groep Soetmelk) en Boesman Keyser (saksofoonspeler). Hulle vertoning sal op 27 en 28 Maart 2020 by die Windpomp Restaurantteater in Oudtshoorn plaasvind. “Ek en Soetmelk maak moeiteloos en instinktief saam musiek, wat die perfekte balans op die verhoog skep,” sê sy. Kaartjies kan op Computicket bespreek word om teleurstelling te voorkom. Buiten hiervoor, stel Petronel ook eersdaags ’n musiekvideo vir AKKERBLARE - een van die gewildste snitte op haar album – aan die media bekend. “Die musiekvideo vir AKKERBLARE is gebaseer op ’n video deur Maritza, ’n sangeres uit Portugal, omdat DIE HEELAL DRAAI deels geïnspireer is deur die Portugese Fado-styl. Dit is egter totaal uniek en deel Suid-Afrikaanse beelde en woorde wat gebou is rondom die tema van eensaamheid. Dié projek, wat die werk van kunstenaar Wilhelm Vincent is, is in Ruiterbosch in die Weskaap verfilm. Die styl is simplisties en outentiek om die musiek te ondersteun, en die fokus op die fadista en haar instrumente te plaas.”



DIE HEELAL DRAAI, wat opgesom kan word as wêreldmusiek/ folk/ kabaret, word as tydloos beskou en bied ’n unieke en verfrissende alternatief vir die gewone style wat in Afrikaanse musiek voorkom. Die album kombineer verskeie fantastiese elemente. “Fado-musiek is ekspressief en melancholies, wat regtig aansluit by my kabaretstyl. Dit het alles begin met AKKERBLARE. ’n Vrou uit die Noordkaap het my gekontak nadat sy vir jare na my gesoek het. Ek het my interpretasie van haar boodskap getoonset, waar dit alles begin het - een liedjie het in ’n album verander,” deel sy. Ter voorbereiding vir die KKNK, doen Petronel ’n blitstoer Kaap toe om saam met Soetmelk te oefen en op te tree, tydens ’n musiek- en wynparingsgeleentheid saam met Riebeek Cellar by Zest Restaurant in Gordonsbaai, voordat sy alleen verder toer. Kliek hier vir meer inligting. Saterdag, 29 Februarie 2020, is sy te sien by ’n musiek-, kos- en wynparing, saam mer Org de Rac Wyne by De Stalle Restaurant in Moreesburg. Meer inligting oor dié skrikkeldag-byeenkoms, is beskikbaar by https://facebook.com/events/s/food-music-and-wine-pairing/2621937091374159/?ti=as. Sondag, 1 Maart, vier sy weer die Herfs ten bate van die DS de Wet Skool vir Outisme by Van Brakel Stoor in Caledon: https://facebook.com/events/s/diva-galore-life-is-good/167295237893293/?ti=as Die kunstenaar het verder ook ’n vol program en tree gereeld by plekke en funksies in Grootbrak en Klein Brak op, waaronder Salty River Beer House en Fynbos Paradys Blommemark. Op 14 Maart, is sy ook te sien by die Grootbrak Fragrance Festival. Sy werk ook tans aan ’n nuwe projek, Seek the light, saam met Crystal Blaq Entertainment. Dit sal op Werkersdag vrygestel word. “Die liedjie gaan oor armoede en klasseverdeling. Dit spog met ’n huis-/ transmusiekstyl wat iets heeltemal anders is as waaraan ek gewoond is. Gavin Jay is egter ’n uitstekende kletsrymer en die manier waarop ons stemme mekaar aanvul, maak die eindresultaat baie interessant,” vertel Petronel. Petronel het in Villiersdorp grootgeword en was van kleins af versot op musiek. Haar ma en oom (wat die hoof en dirigent was by die Drakensberg Seunskoor) het haar lief gemaak vir koormusiek. Haar uitsonderlike solo-stem is op die ouderdom van twaalf ontdek tydens ’n skoolopvoering van Die Slapende Skoonheid en net daar het die sang- en toneelgogga haar behoorlik gebyt. Na skool het sy Drama by Stellenbosch gaan studeer en in 1998 professioneel begin optree. Aan die einde van haar honneursjaar, het sy ATKV se Crescendo-kompetisie gewen en voltyds by die vermaakbedryf betrokke geraak.


Oor die afgelope paar jaar het sy al verskeie optredes en toneelstukke gedoen en die geleentheid gehad om met kunstenaars te werk vir wie sy die wêreld se respek het, soos Stef Kruger en Riku Lätti. Sy sonder ook die opname van haar sesde album, Die Heelal Draai, uit as een van haar grootste hoogtepunte sover. Haar debuut-vrystelling, Lank Al, is benoem vir ’n SAMA en twee Geraas-musiektoekennings. Petronel is baie opgewonde oor die feit dat betekenisvolle musiek besig is om al hoe meer gewild te raak die bedryf, omdat sy glo dat wysies en lirieke met die hart moet praat. “Ek wil hê dat mense vrede moet ervaar wanneer hulle na musiek luister en dat dit op ’n dieper vlak moet aanklank vind.” Aanhangers kan saam met haar op Facebook kuier om meer uit te vind oor waarmee sy besig is en vir inligting oor konserte en besprekings. SNITTE OP DIE ALBUM 1. Akkerblare 2. Die Heelal Draai 3. Met liefde van Eensaam 4. Vanaand 5. Die Smal weg 6. As ek sou raai 7. Ma 8. Nita se blues 9. En draai


 

FOTO KREDIET:  Jorina Kriel Maas

 

SOSIALEMEDIASKAKELS VIR PETRONEL Facebook: https://www.facebook.com/petronelbaardofficial/ Twitter: @PetronelBaard Instagram: @petronelbaardmusic Webblad: www.petronelbaard.com YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCKZN7LSwYxmt1wK9I6PgXBA SoundCloud:  https://soundcloud.com/petronel-baard

 

PUBLISITEIT & BEMARKING Starburst Promosies Alishia van Deventer Sel: 083 635 4717 E-pos: alishia@starburstmusic.co.za Webblad: www.starburstmusic.co.za

13 views0 comments
bottom of page